BMW Motorcycle Club of Pretoria, South Africa

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Error
  • Kunena Internal Error: Please contact the site administrator to fix this issue!

Die Engelbrechts se 4-uithoeke Toer - Christo Engelbrecht (2008)

E-mail Print PDF

"Die Engelbrechts se 4-uithoeke Toer"

deur Christo Engelbrecht  - 2008


Ek en my vrou Jane is albei baie lief om met die motorfiets die lang pad te vat en ons lieflike land te sien.

Een dag terwyl ek op die Think Bike forum rondkyk kom ek af op die 4 Corners toer. Ek het onmiddelik belang gestel en het begin inligting insamel oor wat dit behels.

Dani vir my die nodige inligting laat kry en ek het begin kyk na verskeie roetes om hierdie toer te kan doen.

‘n Werkskollega van my het gehoor dat ek die roete wil doen en was ook geïnteresseerd. Ons het besluit om met die R1200GSA’s die pad aan te vat en die oorslaapplekke af te wissel tussen die normale B&B’s en kampplekke.

Die roete is verskeie kere aangepas om darem so ‘n bietjie grondpad in te sluit. Oorslaapplekke is bepaal en bespreek. Hier moet ek net noem dat ek gevoel het dat so ‘n vooraf beplanning nie nodig is nie, aangesien dit baie druk op jou plaas om die bespreekte plekke betyds te bereik. Die Kersseisoen het ons egter genoodsaak om vooraf besprekings te doen.

Nadat die roete vasgemaak is en alle oornagplekke bespreek is, het ons besluit om die volle bedrag vir elke oorslaapplek ten volle te betaal. Dit sou die probleem om met sakke vol geld rond te ry verhoed. GROOT FOUT!!!

‘n Maand voor die tyd moes my vriend weens werksdruk hom onttrek.

‘n Ander werkskollega het toe so pas die K1200LT, wat ek so graag wou koop, gekoop. Hy het een Saterdag by my kom kuier en my Finansiêle Direkteur het hoek, lyn en sinker vir die luuksheid geval. Sy het dadelik in haar gedagtes gesien hoe sy op die luukse rusbank met wiele gaan sit en ontspan en dink waar ons kan besnoei aan algemene uitgawes om vir die nuwe rusbank op wiele te kan betaal. Die Maandag is my LT bestel.

Hierdie kollega het gehoor van die toer en dat my ander vriend nie meer kon saamgaan nie. Hy het direk besluit om saam met my te ry indien die grondpad gedeeltes uitgesny sal word. Dit het weer van voor-af beplanning gekos. Daar moes inderhaas plekke gekanselleer word en nuwe plekke op die aangepaste roete moes bespreek word. KLOMP EKSTRA KOSTE.

Ek het my LT gekry en moes gou vir ‘n naweek weggaan om die eerste 1000Km te ry vir daardie belangrike eerste diens. Na die 1000km-diens is sy mooi skoongemaak en in die motorhuis geparkeer. Hier moes sy nou vir 3 weke staan tot ons die toer kon begin.

Twee weke voor ons sou vertrek, die dag van die Toy Run kon Jane nie meer wag nie. Sy wou nie tasse uit die motorhuis hê sodat sy kon begin pak. Ek moes my klere uitsit sodat dit reg en gewas kon wees vir die toer. Ek moes die res van die tyd sonder my reënjas en normale ATGATT werk toe en terug ry. Ek moes my wintersklere weer uitpak en daarmee oor die weg kom. Geen genade vir my en die somerhitte nie.

Weereens moes die vriend wat die roete saam met 6ns sou ry kanselleer. Dit was die Woensdag voor ons vertrek. Daar was nie tyd om iemand te kry om saam te gaan nie en ek en Jane het besluit om alleen te ry. Ons was bekommerd daaroor om so ‘n lang toer alleen aan te pak maar daar was niks wat ons daaraan kon doen nie.

My verlof het Maandag die 15de Desember begin. Ek het egter die 12de besluit om baie vroeg huis toe te gaan om te pak en alles in orde te kry vir die groot trek. Die LT is eers weer gewas en blink opgevryf. Daarna is alles wat op daardie stadium gepak kon word gepak.

Die oggend van die 13de Desember om 05:00 wou ek ry. Dit het beteken dat daar alreeds 3:30 opgestaan moes word. Die diere met die lang hare wat loop soos mense het mos tyd nodig vir al hulle pleisterwerk. Weet nie hoekom dit nodig is as jy op ‘n motorfiets is met ‘n helmet op jou kop nie...

05:00 - Gepak en reg vir die pad.

day 1 - gepak


Dag 1 - 6942m Huis na Willowmore

Ons woon in Gordonsbaai en dit was net 'n vinnige entjie van die huis af tot by Kaap Agulhas vir die nodige fotosessie.

Jane en ek by Kaap Agulhas.

Jane Kp AgulhasChristo Kp Agulhas

 

Van Kaap Agulhas af oor Tredoux-pas, hiervandaan na Barrydale vir ‘n ligte versnapering by Country Pumpkin.

Dit is my gunsteling restourant op die R62 en ek mis dit vir niks. Nog ‘n groot rede vir hierdie besoek was om my nuwe 'Route62'-wapen te gaan haal. Met die vorige besoek het hulle nie wapens gehad nie en my seun Jaco, van Secunda, het toe myne gevat.

Country Pumpkin


Die volgende stop was Oudtshoorn, daarna weg na Willowmore waar ons in The Willows Historical Guesthouse sou oornag.

Ek het besluit om ook redelik uit te brei oor al ons verskillende oorslaapplekke sodat toekomstige reisigers ‘n idee kan hê van waar om oor te slaap.

Ons het ‘n gerieflike groot kamer gehad met TV, lugversorger, koffie/tee en ‘n baie netjiese badkamer/toilet. Die lugversorger het goed te pas gekom in die hitte. Aandete was werklik uit die boonste rakke en na ‘n paar bottels rooi wyn uit die kontrei het ons rustig gaan slaap.

oornag

Dag 2 – 543km Willowmore na Gonubi

Die volgende oggend vertrek ons 06:00 met die enkel baan sementpad na Steytlerville.

ennkelbaan


Verder oor Kirkwood na Grahamstown en dan tot in Gonubi waar ons by The Nest B&B oorslaap. Weereens ‘n lieflike dag deurgebring in die saal. Ons het werklik ‘n uitsonderlike mooi land. Elke paar kilometers verander die landskap.

Steytlerville is ‘n baie interessante dorpie.

steytlerville


Naby Addo het ‘n duikertjie my toer amper kortgeknip. Hy het nuwe betekenis gegee aan die uitdrukking ‘bokspring’. Hy het voor die fiets ingespring en toe rond en bont bly spring voor die fiets. Ek het hom rakelings gemis. Ons het middagete in Grahamstown geniet.

In Gonubi was ons kamer ook van hoogstaande gehalte met al die nodige luukshede. Selfs ‘n yskas met iets om die keel nat te hou. Die enigste probleem hier was dat geen aandetes bedien is nie. Aangesien ons moeg was en alreeds die ATGATT uitgetrek het, het ons besluit om maar honger te gaan slaap.

Daar is genoeg restourante in die omtrek en indien ons nie so lui was nie kon ons enige tyd by een van die restourante gaan eet het.

Dit het lekker gereën deur die nag maar die volgende oggend voor ons vertrek, het dit gelukkig opgehou.

Dag 3 – 548km Gonubi na Margate

Ons was bang vir die stuk pad deur die Transkei en vertrek dus weer lekker vroeg.

Die agteruitgang van die dorpies het ons verbaas en die loslopende diere in die pad was 'n groot gevaar. Ek moes letterlik wydsbeen oor die LT stap deur die dorpies, so erg was die verkeer en die voetgangers. Ek sal hierdie deel van die roete nooit weer ry nie. Alhoewel die natuurskoon werklik mooi was, was ons te bang om te stop om foto’s te neem. Daar is verskeie kere gemaak asof hulle ons met klippe gaan gooi.

transkei


Ons het oor Butterworth na Umtata op die N2 gery en daarvandaan die R61 gevat na Umtweni, Port Edward tot in Margate waar ons in die Nolangweni Lodge oorgebly het.

'n Man se fiets moet skoon wees... die eerste was.

eerste was


Dag 4 Margate

Ons sou hier eintlik by my dogter tuisgegaan het, maar toe sy dit hoor het hulle vinnig verhuis na Gauteng. Weet nie of dit net ek is nie, maar ek het nogal gewonder. Ons het maar later by haar in Gauteng gaan kuier.

Nolangweni Lodge was weereens uit die boeke. Hier het die gasvrou ons bed elke aand oopgemaak, ‘n blom en ‘n lekkertjie op elke kussing gesit en die gordyne toegetrek. Gelukkig het dit hier gestop, sy het ons nie later deur die nag kom toemaak nie.

Hier was ook nie aandetes bedien nie, maar ons kon by die restourante eet of wegneemetes bestel - Voorwaar ‘n plek wat ek sal aanbeveel.

Dag 5 – 350km Margate na St Lucia

Hierdie was nie so ‘n lang rit nie en ons het eers na ontbyt gery. Ons het met die N2 al langs die kus opgery tot in St Lucia waar ons middagete gaan geniet het voor ons na die gastehuis toe is. Ons het in Mtubathuba in Wendy’s Guest House oorgebly.

Ons blyplek was baie netjies en die tuin was soos ‘n sprokie. Ongelukkig het ons ‘n groot middagete geniet in St Lucia en het nie aandete geniet nie. Dit het my laat besluit om elke dag vooruit te skakel na die volgende oorslaapplek en uit te vind of hulle aandetes bedien. Ons sou dan nie nodig hê om ‘n groot middagete te eet nie.

Dag 6 – 543km St Lucia na Piet Retief

Dit sou ‘n lang dag met onbekende paaie wees en daar is besluit om vroeg weg te spring. Ons het met die N2 aangery tot by die R22-afdraai en vandaar na Kosibaai waar ons foto's geneem het wat as bewys sou dien van ons besoek aan die mees oostelike grenspos van Suid-Afrika.

Josini dam.

josini dam


Vanaf Josini het die pad drasties versleg en moes ek verskeie maal die fiets tussen massiewe slaggate deur- loop. Jane het gesê ons moet met die terugkomslag foto’s neem van die pad, want niemand sal ons glo nie. Dit het egter nie gebeur nie, want ek het toe eerder van Kosibaai terug gery na Hluhluwe waar ons ‘n ligte middagete geniet het.

Daarvandaan is ons terug met die N2 na ongeveer 35km duskant Piet Retief waar ons op ‘n plaas in die 'Dusk to Dawn B&B' oorgebly het.

oorslaap


Hierdie oorslaapplek was die hoogtepunt in luuksheid en gerief op die hele toer. Die kos was uit die boonste rakke en die gasvrou en gasheer was absoluut vriendelik en behulpsaam.

Ek kan hierdie plekkie aanbeveel vir die manne in Gauteng en Mpumalanga. Ideaal vir ‘n naweek wegbreek. Daar is ongelukkig so 3 km plaaspad wat nie in die beste kondisie is nie, maar as ek dit met ‘n swaargelaaide LT kon doen, kan enige ander fiets dit doen.

Dag 7 – 340km Piet Retief na Sabie

‘n Kort rit was vir hierdie dag beplan. Ons het tot in Carolina gery waar ons vir my seun, Jaco en sy meisie Mandie, gewag het.

Hy het die stuk na Pontdrift en terug tot op Hartebeespoort dam saamgery. Ek wou graaag oor Badplaas en Barberton na Nelspruit ry vir middagete. Ons het egter daarteen besluit en reguit vanaf Carolina na die N4 gery en daarvandaan na Sabie.

Hier het ons in die Fern Tree Lodge oorgebly. Ek was nog altyd baie lief vir die omgewing en het al verskeie kere in hierdie omgewing vakansie gehou. Het vir baie jare in Barberton gebly.

Jaco en Jane ontspan op die stoep van ons huisie in Sabie.

sabie

Jaco op sy Bandit.

bandit


Die Fern Tree Lodge was ‘n gerieflike oorslaapplek waar ons ook ‘n lekker aandete geniet het. Hier was geen luuksheid nie, maar die prys was goed en die mense vriendelik. Om hierdie plekkie as basis te gebruik wanneer die omgewing verken word sal baie lekker wees. Daar is ‘n kroeg asook ‘n swembad waar mens lekker kan ontspan. Elke huisie het ook sy eie braaigeriewe.

Dag 8 – 553km Sabie na Pontdrift

‘n Lang dag met onbekende paaie lê voor. Al waarvan ek seker was, was die feit dat ons deur dele sou ry waar plaasdiere en voetgangers ‘n groot probleem sou wees. Spoedgrense sou ook baie laag wees. Dus is daar weer 05:00 uit Sabie weggetrek. Die eerste stop was Tzaneen waar die innerlike eers versterk is. Hier het ons in ‘n kwekery ‘n baie aangename eetplekkie ontdek. Die koffie was van die beste en ons wou na die groot ontbyt nie weer die hitte aandurf nie. Dit het baie warm begin word.

Daarvandaan op na Makhado, Musina waar die verkeer en voetgangers my weer op my voete gehad het. Die hitte was vir ons hier uit die Kaap werklik ondraaglik. Die laaste stuk pad tot in Pontdrift was ‘n nagmerrie. Die hitte het ons so moeg gehad dat ons werklik moes konsentreer om by ons blyplek uit te kom.

Net voor Pontdrift het ons by die Balerno Bush Lodge oorgeslaap. Hierdie was ‘n stukkie paradys. Toe Mandie die hek oopmaak is ek en Jane deur. Ons het gestop en vir hulle gewag. Terwyl ons wag sien ek toe hier langs die motorfiets . . .  OLIFANT-mis. My hart was in my keel. Grondpad, sandpad, weet nie hoe ver na die blyplek toe nie, maar olifante? 'n LT draai nie so maklik om nie en is ook nie juis gemaak om grondpad te ry nie! Gelukkig was die blyplek net ongeveer 200m agter die bosse weggesteek. Ons het vinnig afgepak en die plekkie begin verken. Gelukkig was daar ‘n klein dammetjie/swembad waar ons kon afkoel.

Ons kon nie kos saamneem nie en was honger. Die eienaar was nie daar nie maar die bediende wat oopgesluit het, het gesê dat die baas in Alldays is en later sal inkom. Ons het dadelik gebel en gereël dat hy vir ons vleis en bier saambring van Alldays af.

Die vleis en bier het gekom saam met die aangenaamste ‘kluisenaar’ wat ek nog ontmoet het. Hy was uitgehonger vir geselskap en ons het so vir ‘n uur of wat lekker gesit en kuier tot hy weer terug is na Alldays toe. Ons was alleen op die pragtige plekkie. Die kombuis was vol kos en ons kon gebruik wat ons wou. Hy wou nie eers geld vat vir die vleis en bier nie. Ek het voor ons vertrek ‘n koevert met genoeg geld in op sy lessenaar gelos.

Die kampvuur was alreeds gepak en ons het die vuur aangesteek vir ‘n lieflike aand in die bos. Die kamers met die grasdakke was ‘n ander uitdaging vir die skoner geslag. Allerhande gediertetjies het hier gebly.

vuurtjiebalerno


Ek glo dat daar al baie motorfietsryers gebly het wat sal saamstem dat hierdie plekkie 'n juweel is. Die fotosessie sou moes wag vir die volgende dag.

Dag 9 – 612km Pontdrift na Secunda

05:00 in die saal en die temperatuur was reeds 27C. Na die fotosessie by Pontdrift het ons begin soek na ‘n petrolpomp.

Ons Pontdrift foto's:

jane pontdriftChristo pontdrift


Van die een dorpie na die volgende is die petrolpompe toe. Alles was toe. Ons het al stadiger begin ry om petrol te spaar en uiteindelik op die laaste reuk van petrol in die tenk ‘n oop pomp in Molemole gekry. Ons is verder na Polokwane met die R521. Hierna ‘n stukkie N1 tot in Mokopane vir ontbyt en dan met die N11 oor Marble Hall, Groblersdal, Witbank, Kriel na Secunda. Hier het ons vir die volgende paar dae by my familie gekuier. Ons het by Jaco tuisgegaan.

Jaco en ek by Loskopdam

loskopdam


Dag 10 en 11 Secunda

So baie familie en so min tyd.
Ons kuier bietjie by die familie.

Dag 12 - 214km Secunda na Hartebeespoortdam

Hierdie dag is maar ‘n gemiddelde 'breakfast run'. So rustig op ons tyd opgestaan en die pad gevat na Harties. Jaco en Mandie het saam gery en ook saam hier vir ‘n paar dae gekuier.

Na die herstelsessie is ons gou deur na Vereeniging om by Jane se suster te gaan koffie drink. Jaco en Mandie het saamgery tot met hulle afdraai na Secunda en is toe terug huis toe. Ons het nie lank by Jane se suster vertoef nie en toe deur gery na Linden om by my dogter te gaan oorslaap. Sy het gelukkig nie weer verhuis nie en ons kon ‘n lekker vleisie op die kole offer.

Dag 13 - 17  Die paar dae oor Kersfees spandeer ons by familie in Hartebeespoortdam

Dag 18 - 797km Hartebeespoortdam na Upington

Dit is die langste dag op die hele toer. Lang, reguit vervelige pad. Weereens vroeg opstaan sodat ons 06:00 kan ry. Ongelukkig was die battery vir die elektriese hek vir die tweede keer in 4 dae gesteel. Dit het ons met ongeveer ‘n half uur vertraag.

Ons het die N4 gevolg tot by die afdraai op die R52 na Lichtenburg. Oor Vryburg, Kuruman, Sishen na Upington waar ons in die Aloe Guest House tuisgegaan het.

Op Sannieshof het ons eers gestop vir ontbyt. Ek kon eers nie ‘n lekker plek kry om te eet nie maar op pad uit die dorp het ons toe 'n lekker eetplekkie ontdek. Na baie 'smoke breaks' het ons uiteindelik in Upington aangekom. ‘n Vinnige draai in die dorp vir so ‘n bietjie proviand en ons is na die gastehuis toe.

Hier het ons tuisgegaan in 'n lieflike kamer met badkamer en kombuis. Die lugversorger het deurentyd gewerk. Ons het heel middag en aand buite voor die kamer langs die swembad gesit. Later die aand het ons gasheer vir ons vleis gebraai. Wat ‘n fees was dit nie. Hy kan maar weer vir my braai. Ons het die aandete saam met die gesin geniet.

Die rede vir hierdie lang dag is sodat ons die volgende dag na slegs ‘n baie kort rit op Augrabies kan aankom en die dag by die valle kan geniet. WAT ‘n GRAP!

Dag 19 – 109km Upington na Augrabies

Lekker laat geslaap, ontbyt geëet en 09:30 weggetrek na Augrabies.

Net buite Kakamas, die Pienk Padstal.

pienk padstal


In Augrabies aangekom het ons ons eerste ontnugtering gehad. Die kollega wat hierdie bespreking gemaak het, het gedink dit is by die valle. Dit was egter nie langs die rivier nie, maar so ongeveer 5km van die rivier af. Dit was nie as sulks ‘n probleem nie en ons het toe sommer deurgery na die valle toe om so ‘n bietjie daar rond te stap.

Ons het ons absoluut misgis met die temperatuur. Terwyl ek by ontvangs my dagbesoek-fooi betaal het, het ek gesien dat hulle die temperature teen die muur opgeskryf het. 48°C buite en 38°C in die skaduwee.

Ek en Jane was teen hierdie tyd alreeds uitgebraai en met ons ATGATT kon ons nie die dag daar rondstap nie. Die rivier was ook baie laag en ons sou ‘n redelike ent moes stap om iets te sien. Ons het toe maar besluit om terug te gaan na ons blyplek vir die nag en Augrabies op ons program te sit vir ‘n volgende besoek.

Ons het in die Augrabies Falls Lodge gebly. Ons is nie een lief vir hotelle nie, maar die kamer was ruim en netjies. Die lugversorger het heeltyd gewerk en die kroeg was vol interessante mense van die omgewing sowel as toeriste. Hier het ons die middag deurgebring en seker gemaak dat ons nie ontwater nie.

Aandete: Hierdie mense weet van ‘n bord kos. Nie ek of Jane kon ‘n ernstige duik in die bord kos maak nie en ons het besluit om te gaan slaap.

Dag 20 – 536km Augrabies na Alexanderbaai

Soos dit al gewoonte geword het is daar weer vroeg opgestaan en 05:00 is die pad aangedurf na Alexanderbaai waar die laaste van die 4 punte besoek moes word. Oor Pofadder, Springbok, Steinkopf na Alexanderbaai. Hierdie deel van die N14 is plat en reguit. Dit is ‘n baie vervelige pad en moontlik om teen enige onwettige snelheid te beweeg.

Petrol, sigaret en vetkoek stop:

boesmanland kafee

Via 'n koue Springbok na Alex - - - Amper daar!

amper daar


Ons het redelik vroeg in Alexanderbaai aangekom. Die fotosessie is afgehandel en daarvandaan na die Alexander Bay Guest House. Hier kom die EXTREME RIDER en PILLION GOLD!

alex

Hier het ons nog ‘n teleurstelling op die toer gehad. Die kamer waarin ons moes bly was heel goed, maar aangesien dit ‘n vakansiedag was moes elkeen vir homself sorg. Daar was alreeds mense van die vorige dag en hulle het ‘n baie vogtige oujaar gehad. Die hele ontspanningsarea het vol leë bottels en blikke gelê. Die vuil skottelgoed het die tafels vol gestaan. Die potte en panne in die kombuis was morsig vuil.

Daar was geen bediendes nie en die bestuurder was slegs beskikbaar op bystand. Ek was briesend en het die bestuurder laat kom.

Die bestuurder was geskok om die toestand van die plek te sien en nadat hy om verskoning gevra het, het hy ons na die VIP gastehuis geneem. Dit is waar die myn se CEO en Ministers gewoonlik tuisgaan. Dit was ook die enigste oop plekkie. Dit was absoluut fantasties en alles was van uitstaande gehalte. Daar is kos gebring en ons moes dit slegs self voorberei.

Die les om te leer is om nie alles te aanvaar en dan later op die internet en in koerante te kla nie. Bespreek die probleem met die persoon in beheer en ek kan julle verseker dat indien jou klagte geldig is, dit opgelos sal word.

Dag 21 – 624km Alexanderbaai na Citrusdal

Teen hierdie tyd is ons nie meer lus nie. Vroeg opgestaan vir die pad na Citrusdal. Terug oor Steinkopf na Springbok, Garies, verby Vredendal tot by Citrusdal waar ons ons laaste nag van die toer in die Hebron gastehuis oorslaap.

Die oorweging om deur te ry huis toe was sterk, maar dan het die dag te lank geword. Ons was albei moeg en so ‘n ekstra stuk pad sou definitief nie tot ons voordeel gestrek het nie.

Ons oornagplekkie in Piekenierspas se hele oprit en parkering was vanaf 50mm tot 100mm diep gegooi met perskepitte - Nie goeie ryvlak vir die LT nie!

pitte


Laaste dag – 198km Citrusdal na Huis

En so kom alle goeie dinge tot ‘n einde. Rustig opstaan, ontbyt eet en die plan was om weer so 8:00 weg te trek op die laaste deel van ons roete. Ons was egter so angstig dat ons net na 04:00 opgestaan het. Ons het rustig reggemaak en gepak. 06:00 is ons hier weg en behalwe vir baie erg mis het ons sonder voorval om 08:00 by die huis aangekom. Die roete het ons deur Piketberg, Mooreesburg, Abbotsdale, Durbanville tot by die huis geneem.

Lesse geleer:
  • Moenie hierdie toer in die somer aanpak nie.
  • Vermy Transkei of die dorpies in Transkei.
  • Enige motorfiets kan hierdie toer doen. Die tyd is voldoende en die distansie per dag kan met enige motorfiets gedoen word.
  • Ek het gehou van die vooraf bespreking van slaapplek. Omdat die daaglikse distansies nie groot was nie kon ek afwyk van die beplande roete sonder om myself te bekommer om by my bespreekte slaapplek te kom.
  • Verseker vooraf waar aandete bedien word en maak voorsiening vir eie eetgoed waar nodig.
  • Ek het my eie koffie en suiker saamgery en elke dag net melk gekoop. Die koffie en poeiermelk by die gastehuise is nie altyd van die beste nie.
  • Verseker dat die bespreekte plekke is waar jy verwag. Soos met my toer het ek my misgis met die blyplek in Augrabies.
  • Verseker ook dat die plekke wat jy bespreek aan jou vereistes sal voldoen. Dit is nie altyd moontlik om ander blyplek te kry nie.
  • Moenie te veel bagasie saamdra nie. Die helfte is gewoontlik oorbodig.
  • Ek het ook gevind dat dit beter is om my eie drinkding saam te karwy. Party plekke vra vir 'n enkel brandewyn soveel as wat 'n bottel jou sal kos.
  • Water is baie belangrik. Dra genoeg water saam en drink gereeld.
  • Diens jou fiets en verseker dat jou bande dit sal maak. Onkoste en ongerief om herstelwerk op die pad te doen is altyd hoog.
  • Ry die nodige gereedskap saam. Jy kan jou eie klein herstelwerk en pap wiele hanteer.
  • Wanneer jy enige motorfietstoer oorweeg.....Moenie DINK nie.....DOEN. Dit is lekker!
Joomla Templates and Joomla Extensions by ZooTemplate.Com
 

Discuss this article
You need to log in or register to participate in this discussion.
Banner
Banner
Banner

Our club on Facebook

Joomla Templates and Joomla Extensions by ZooTemplate.Com

Recent Forum Posts

No posts to display.